Wheels oiled for Agri Mega Week
June 26, 2017
Droogtes en ekonomie dreig, maar Agri Mega Week 2017 voluit vorentoe
August 25, 2017
Show all

Wiele aan’t rol vir Agri Mega Week

Die ratte is ge-olie en die wiele aan die rol vir die aanbieding later vanjaar van Agri Mega Week, ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse landboukalender en pronkstuk van Mega Events se jaarlikse aanbiedings.

Dié ekspo word vanjaar van Woensdag, 13 September 2017, tot Saterdag, 16 September 2017, weer op Mega Park, Bredasdorp, aangebied. Dit het sedert 2003 – die eerste jaar waarin dit in die huidige formaat aangebied is – gegroei tot een van die grootste landbou-ekspo’s in Suidelike Afrika en ’n toonaangewende agri-besigheidsplatform vir Afrika.

Met die program vir die komende ekspo hou Mega Events by die wenresep wat deur die jare ontwikkel en verfyn is. Die fokus bly op die produsente, verskaffers en verbruikers van landbouprodukte, aangevul deur ’n sterk ekspo-klem op toerisme en die buitelewe. Vanjaar sal die ekspo onder meer as forum dien vir die bekendstelling van nuwe landbouprodukte, die oordra van wetenswaardige inligting oor die jongste ontwikkelinge op landbougebied, die bespreking van aktuele kwessies wat die landbou ten nouste raak, die oorweging van vroue se rol in die landbou, en die viering van plaaswerkers se bydrae tot die bedryf. Die program is ook gefokus op vermaak vir besoekers van alle ouderdomme.

Onder die temas, veral ook gemik op kommersiële boere, wat in die bespreking- en inligtingsessies deur kundiges aan die orde gestel sal word, is die verantwoordbare gebruik en bestuur van skaars hulpbronne soos water, asook ’n werkbare teenstrategie vir plaasmoorde. ’n Interaktiewe program vir plaaswerkers word beplan, terwyl ’n trekker-bestuurkompetisie ook groot byval behoort te vind.

Naas ’n kompetisie vir die aanwysing van die vleisbees-interraskampioen, waarin gefokus word op jonger diere, sal daar ’n verskeidenheid groot- en kleinvee-rasse op die ekspo te sien wees. ’n Boerboelskou sal onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Boerboeltelersverening aangebied word. Die beoogde reptieldemonstrasies en die Mega PetEx interaktiewe troeteldierskou sal beslis weer ’n gewilde gesinsbestemming wees.

Nog ’n tema van die ekspo is ons land en die Overberg se toerisme-potensiaal, -geleent-hede, -bestemmings en -infrastruktuur. Ook die buitelewe – met inbegrip van produkte soos veldvoertuie, sleepwaens, toebehore, klerasie en fotografietoerusting – sal omvattende blootstelling kry.

Navrae oor die ekspo kan gerig word aan Mega Events by (021) 863 1803 of (028) 424 2890.

Leave a Reply

Your email address will not be published.